Voorgraadse Beurse
English
framecurve2 Voorgraadse Beurse


Hoe om aansoek te doen

Alle beurse en lenings word geadverteer in die Universiteit se Jaarboek, Deel 2 en kan verdeel word in twee hoofgroepe, naamlik (i) beurse en lenings wat deur private instansies en maatskappye geadverteer en geadministreer word en (ii) beurse en lenings wat deur die Universiteit beskikbaar gestel, geadverteer en geadministreer word.

In die geval van privaat instansies en maatskappye, moet studente direk met hierdie instansies korrespondeer om die nodige inligting en aansoekvorms te bekom. Die adresse en sluitingsdatums van hierdie instansies is in die Jaarboek, Deel 2 beskikbaar.

Indien die beurse en /of lenings deur die Universiteit geadministreer word, is dit baie belangrik dat die volgende prosedure gevolg word:

Die regte prosedure

Die Universiteit van Stellenbosch kan slegs 'n aansoek om 'n beurs en/of 'n beurslening oorweeg, indien die student of voornemende student die regte prosedure gevolg het.

  • Lees en bestudeer die Jaarboek, Deel 2 noukeurig en bepaal vir watter beurse en/of lenings u volgens die gegewe beurs- en leningskriteria kwalifiseer.
  • Maak 'n lys van al die beurse/lenings waarvoor u aansoek wil doen.
  • Verkry by die Hoof: Afdeling Beurse en Lenings (voorgraads) die voorgeskrewe aansoekvorm(s).
  • Sorg dat die voorgeskrewe aansoekvorm vir beurse en/of beurslenings - (i) volledig en akkuraat ingevul is, en (ii) oral waar nodig onderteken is.
  • Sorg dat die vereiste stawende dokumente u aansoek vergesel.
  • Stuur die volledige aansoekvorm(s) betyds aan die Afdeling Beurse en Lenings (voorgraads).

Onthou om eers by die Universiteit om toelating aansoek te doen en 'n studentenommer te kry voor jy vir beurse aansoek doen.

Terug na bo


Wie kwalifiseer?

Twee stelle faktore by die toekenning van beurse / beurslenings

Aangesien die Universiteit se finansiële bronne nie onbeperk is nie, baseer hy die toekenning van beurse en/of beurslenings - met ander woorde, die verlening van finansiële ondersteuning - op sowel akademiese as finansiële faktore.

Akademiese faktore

Aansoekers -

  • moet aan die minimum akademiese vereistes vir toelating voldoen;
  • moet vir voltydse, volle programme geregistreer wees;
  • Senior studente van die Universiteit (studente vanaf hulle tweede studiejaar) moet minstens twee derdes van hul krediete van die voorafgaande jaar geslaag het.

Finansiële behoeftigheid

Indien 'n aansoeker die akademiese potensiaal het om suksesvol te studeer, oorweeg die Universiteit sy finansiële behoeftigheid. Om 'n aansoeker se finansiële posisie noukeurig te kan bepaal, verlang die Universiteit die volgende dokument(e) betreffende die finansies van sy ouers / voog / eggenoot:

  • die ouers / voog / eggenoot se jongste salarisstrokie(s) of, indien van toepassing, 'n brief van die werkgewer waarin die ouers / voog / eggenoot se inkomste verklaar word; of
  • indien die ouer / voog / eggenoot 'n pensioenaris is, 'n uitdienstredingspakket aanvaar het, of van rente-inkomste afhanklik is, dokumente ter stawing van hierdie feit; of
  • indien die ouer / voog / eggenoot 'n eie besigheid of boerdery bedryf, die jongste, behoorlik geouditeerde finansiële state van sodanige besigheid of boerdery.

Die middeletoets

Met hierdie finansiële besonderhede beskikbaar, evalueer die Afdeling Beurse en Lenings (voorgraads) dan die aansoek aan die hand van die Universiteit se middeletoets. Hierdie middeletoets meet die aansoeker se graad van finansiële behoeftigheid. Die toets word sonder aansien des persoons toegepas op alle aansoekers om finansiële hulp waarby finansiële behoeftigheid 'n voorvereiste is. Studente ontvang finansiële ondersteuning ongeag ras of geslag, in regstreekse verhouding tot hul graad van finansiële behoeftigheid soos met die middeletoets bepaal.

Terug na bo


Sluitingsdatums

- 31 Oktober van die voorafgaande akademiese jaar vir voornemende eerstejaarstudente
- Aansoekvorms vir voornemende studente is van Julie beskikbaar.
- Senior studente kan van September aansoekvorms by die Afdeling Beurse & Lenings aanvra.

Aansoeke wat ontvang word ná 31 Oktober sal nie oorweeg word nie.

Terug na bo


Hoe en wanneer hoor ek?

Voornemende eerstejaars
Alle voorgestelde toekennings van beurse aan voornemende eerstejaars word aan die Komitee insake Beurse en Lenings (voorgraads) vir bekragtiging voorgelê op 'n vergadering vroeg in Desember. Daarná laat weet die Afdeling Beurse en Lenings elke aansoeker per brief of die aansoek suksesvol was of nie.

Geregistreerde studente
Alle voorgestelde toekennings van beurse vir die nuwe jaar word aan die Komitee insake Beurse en Lenings vir bekragtiging voorgelê op sy vroegste vergadering van die jaar. Daarná laat weet die Afdeling Beurse en Lenings (voorgraads) elke aansoeker per brief of die aansoek suksesvol was of nie.

'n Aansoeker kan in die nuwe akademiese jaar telefonies by die Afdeling oor sy aansoek navraag doen, -

  • indien hy 'n voornemende student is en teen die einde van Januarie nog nie só 'n brief ontvang het nie, of
  • indien hy 'n geregistreerde student is en teen 30 Maart nog nie só 'n brief ontvang het nie. Die Afdeling se nommer vir sulke navrae is (021) 808-4627.

Terug na bo


Wat gebeur met die beurs en/of beurslening wat ek ontvang?

Inbetaling
In die geval van merietebeurse en beurse / beurslenings vir plaaslike, voltydse studie wat deur die Universiteit ontvang en geadministreer word, betaal hy die betrokke bedrae in die houers se studentegelderekeninge in.

Uitbetaling van merietebeurse
Indien 'n merietebeurshouer se studentegelderekening aan die einde van die eerste semester 'n kredietsaldo toon, is die Universiteit bereid -

  • om die helfte van die kredietsaldo aan die einde van die eerste semester aan die houer uit te betaal; en
  • om die ander helfte van die kredietsaldo aan die einde van die tweede semester aan die houer uit te betaal.

Beursgewer se opdrag
Indien 'n houer se studentegelderekening aan die einde van die jaar 'n kredietsaldo toon, sal die Universiteit die betrokke bedrag -

  • krediteer teen die houer se rekening vir die daaropvolgende jaar; of
  • aan die houer uitbetaal, streng ooreenkomstig die beursgewer se opdrag.

Terug na bo


Beurse en beurslenings vir Eerstejaars

Let Wel: Alle beurswaardes hieronder genoem is van toepassing op 2006 en word elke jaar aangepas.

Merietebeurse vir eerstejaarstudente
Eerstejaarstudente van die Universiteit in voorgraadse programme wat in hul finale matriekeksamen 'n gemiddelde van 85% of meer behaal het, kom in aanmerking vir merietebeurse ooreenkomstig die volgende skaal:

Matriek gemiddelde

Bedrag

85 - 89%

R5 500

90 - 94%

R8 400

95% +

R13 000

Eerstejaars kwalifiseer outomaties vir `n merietebeurs indien hulle gedurende die eerste akademiese jaar `n gemiddeld van 85% behaal het.

Eerstejaars wat hul skooleindeksamen buite `n provinsiale onderwysdepartement (bv. die Onafhanklike Eksamenraad) afgelê het, moet egter om die beurs aansoek doen.

Ses of meer A-simbole
Eerstejaarstudente wat in hul finale matriekeksamen ses (6) of meer A-simbole behaal het, kwalifiseer vir `n addisionele R1000 benewens die merietebeurse in 6.1 genoem.

Spesiale beurse

  • Sportprestasies
    Eerstejaarstudente wat uitmuntende sportprestasies behaal het, kom in aanmerking vir 'n verskeidenheid van spesiale beurse. Kyk "Spesiale Beurse" in Afdeling 3 van die Jaarboek, Deel 2.

Kortings

  • "Drie kinders"-korting
    Die Universiteit bied 10% korting op klasgeld van elke gesinslid indien drie of meer kinders uit dieselfde huisgesin tegelykertyd aan die Universiteit studeer.

Verdienstelikheidsbeurse vir studente uit voorheen benadeelde gemeenskappe
Besonderhede:Beurse aan verdienstelike bruin, swart en indiër voornemende eerstejaarstudente in enige studierigting. Kandidate moet 'n bepaalde minimum skoolpersentasie behaal en kan slegs kwalifiseer indien 'n verdienstelikheidsbeurstoets in 'n sentra soos vasgestel deur die Universiteit van Stellenbosch afgelê word. Beurse word toegeken op grond van hul prestasie in hierdie toets.
Waarde: Wisselend tot 'n maksimum bedrag van R 30 000 vir die normale duur van studie onderhewig daaraan dat kandidate voldoen aan die minimum voortsettingsvereistes van die Universiteit.
Kontak: Afdeling Voornemende Studente, Tel (021) 808-4709
Sluitingsdatum: 30 Junie

US-beurslenings
Die voorwaardes vir die toekenning van US-beurslenings is gebaseer op die US se middeletoets. R1 000 tot R32 000 word toegeken teen die prima rentekoers minus 4%, bereken vanaf die datum van toekenning. Die afbetalingstydperk is gelyk aan die leningstydperk. Beloningsmeganismes is ingebou om studente wat suksesvol studeer, finansieel tegemoet te kom. Hiervolgens word 'n gedeelte van die lening in 'n gegewe jaar in 'n beurs omgeskakel.

Beloningsmeganisme

Slaag 100% van modules in 'n jaar

30% van lening plus rente word 'n beurs

Slaag 80 - 99% van modules in 'n jaar

20% van lening plus rente word 'n beurs

Slaag 65 - 79% van modules in 'n jaar

10% van lening plus rente word 'n beurs

Slaag minder as 65% van modules

Kwalifiseer nie vir verdere ondersteuning

Die bogenoemde beloningsmeganisme is ook van toepassing op die eerste drie jaar van die verlengde graadprogramme (Akademiese Ontwikkelingsprogramme (AOP)). Indien u die verlengde program binne 4 jaar voltooi, word die helfte van die vierdejaarbeurslening plus die rente 'n beurs.

Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS)
NSFAS-beurslenings word toegeken op grond van die NSFAS-middeletoets en beloop R2 000 tot R32 000. Die rente word teen 6% bereken vanaf 1 April 2006. 'n Spesiale terugbetalingsmeganisme word gekoppel aan die inkomste van die lener en u begin eers terugbetaal as u meer as R26 300 per jaar verdien. Beloningsmeganismes is ingebou om studente wat suksesvol studeer, finansieel tegemoet te kom. Hiervolgens word 'n gedeelte van die lening in 'n gegewe jaar in 'n beurs omgeskakel.

Beloningsmeganisme

Slaag 100% van modules in 'n gegewe jaar

40% van lening plus rente word 'n beurs

Slaag 75% van modules in 'n gegewe jaar

30% van lening plus rente word 'n beurs

Slaag 50% van modules in 'n gegewe jaar

20% van lening plus rente word 'n beurs

Slaag 25% van modules in 'n gegewe jaar

10% van lening plus rente word 'n beurs

Beurse vir spesifieke vakke of rigtings
Die besonderhede van hierdie beurse en lenings is beskikbaar in die Jaarboek, Deel 2.

Terug na bo


Beurse en beurslenings vir Seniors

"Senior voorgraadse studente"
Vir die doel van hierdie Deel 2 van die Jaarboek van die Universiteit, beteken "senior voorgraadse studente" "senior studente van die Universiteit wat voorgraadse of nagraadse baccalaureusgrade - bv. BEd (Voltyds) en LLB as tweede B-graad - volg, maar nie honneursgrade nie".

Senior Merietebeurse
Kandidate vir die Senior Merietebeurse moet -

  • matrikulasievrystelling hê;
  • senior voorgraadse studente van die Universiteit (soos hierbo omskryf) wees;
  • voltydse studente van die Universiteit wees;
  • 'n gepaste graadprogram volg;
  • die volle getal modules wat vir die betrokke studiejaar voorgeskryf word, volg; en
  • 'n geweegde gemiddelde van minstens 75% oor 'n hele akademiese jaar behaal.

Watter studiejaar
Vir die doel van hierdie Senior Merietebeurse, word elke kandidaat se geweegde gemiddelde bereken met betrekking tot die voorafgaande studiejaar.

Wanneer skriftelike aansoek
Voornoemde senior voorgraadse studente van hierdie Universiteit kom outomaties vir hierdie senior merietebeurse in aanmerking en hoef gevolglik nie skriftelik daarvoor aansoek te doen terwyl hulle hul onderrigprogramme volg nie, met dien verstande dat sodanige skriftelike aansoek wel vereis word indien so 'n student sy studie onderbreek het en in 'n later kalenderjaar hervat.

Skriftelike verwittiging Waar studente in 'n gegewe akademiese jaar vir Senior Merietebeurse vir die volgende jaar kwalifiseer, sal die Afdeling Beurse en Lenings hulle in Desember van die gegewe jaar skriftelik daarvan verwittig.

Skaal vir Merietebeurse
Senior Merietebeurse word aan tweedejaar-, derdejaar-, vierdejaar-, vyfdejaar- en sesdejaarstudente toegeken ooreenkomstig die volgende skaal:

Geweegde gemiddelde

Bedrag

75 - 79,9%

R 3 950

80 - 84,9%

R 5 550

85 - 89,9%

R 7 900

90 - 94,9%

R 11 000

95% of meer

R16 200

Spesiale beurse op grond van sportprestasies
Senior studente wat die vorige jaar uitmuntende sportprestasies behaal het, kom in aanmerking vir 'n verskeidenheid van spesiale beurse. Kyk "Spesiale Beurse" in Afdeling 3 van die Jaarboek, Deel 2.

Kortings
Senior studente is op dieselfde kortings geregtig as wat op eerstejaars van toepassing is.

US-beurslenings
US beurslenings is ook vir senior studente beskikbaar.

Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS)
NSFAS-beurslenings is ook vir senior studente beskikbaar.

Beurse vir spesifieke vakke of rigtings
Die besonderhede van hierdie beurse en lenings is beskikbaar in die Jaarboek, Deel 2.

Terug na bo


Navrae

Indien u enige verdere of spesifieke navrae het oor beurse en beurslenings, tree gerus in verbinding met die volgende persone in die beursekantoor:

Algemene beurse en US-beurslenings
Me S Lyners, tel. (021) 808-2067, e-pos slyners@sun.ac.za

NSFAS-beurslenings
Me LR Williams, tel. (021) 808- 3715, e-pos lrw@sun.ac.za

Terug na bo